Gamtoos-besproeiingsraad  -  Gamtoos Irrigation Board

 

HomeMy WaterAlgemene VraeStatistiekNuusKontakinligting

 

 

E-NUUSBRIEF 2/2005

 

Vir die maand Januarie 2005

 

Inhoud:

1.      Inleiding

2.      Waterbeperkings

3.      Damstand, reënval, ens.

4.      Werk-vir-Water nuus.

5.      Wenk vir die maand.

6.      Uit die geskiedenis.

7.      Ortofotos

8.     Algemeen

 

1.      Inleiding

 

Die goeie nuus is dat ons webwerf, wat deur John Wait ontwikkel word, reeds in ‘n taamlik gevorderde stadium is. Die adres is: www.gamtooswater.net. Gaan kyk gerus. Op die oomblik is die raamwerk in plek, maar daar moet nog heelwat inligting ingevoer word. U sal egter presies sien wat ons besig is om te doen. U gaan op die ou end onder andere u waterverbruik, meterlesings, inlysting en vele meer kan opkyk. Vertroulike inligting sal met ‘n wagwoord beskerm word en u alleen sal daartoe toegang hê.

Sodra ons webwerf in volle werking is, sal die nuusbrief nie meer direk aan u gestuur word nie, maar sal dit direk op die webwerf gepos word. U sal egter vooraf in kennis gestel word.

John het ook redelik onlangs ‘n webwerf vir Gamtoos Toerisme gedoen. Die adres is www.baviaans.net. Kyk gerus daarna – dis beslis die moeite werd.

 

2. Waterbeperkings

 

Nog beter nuus is dat die waterbeperkings op 1 Februarie opgehef is! Dit is nie alleen te danke aan die goeie reën wat ons gehad het nie, maar ook as gevolg van die goeie samewerking van die meeste besproeiers om minder water te gebruik deur minder aanplantings te doen. Ongetwyfeld is finansiële verliese as gevolg daarvan gely, maar hierdie nuus is nou die beloning daarvoor. Dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie aankondiging nou gemaak sou kon word as dit nie vir u goeie samewerking was nie. Die kwota van 6 000 kub.m. per hektaar wat u aan die begin van die waterjaar ontvang het, word dus verhoog  na die normale 8 000 kub.m.

U word egter vriendelik versoek om steeds uiters versigtig te wees om nie water te mors nie. Voor 1 Julie sal daar ‘n besluit geneem word oor die kwotas vir die volgende jaar en hoe voller die dam op daardie stadium, hoe minder sal die beperkings wees.

 

3. Damstand, reënval ens.

 

Inhoud van Kougadam soos op 31 Januarie 2005:  64.0%.

 

Reënvalsyfers vir Januarie (mm)

 

 

Patensie

Kougadam

Loerie

Langtermyn gemiddeld

57.1

59.3

85.4

Werklik gemeet 

1.6

5.4

10.5

 

Gemiddelde historiese watergebruikspatroon teenoor werklike verbruik 04/05

 

 

Kum. % oor  Maand   (Histories)

Kum % oor (Werklik)

Julie

96.2

96.9

Augustus

89.9

92.2

September

82.1

88.7

Oktober

75.9

82.8

November

65.8

72.9

Desember

55.1

 68.0

Januarie

44.1

 63.0

Februarie

31.8

 

Maart

21.4

 

April

13.0

 

Mei

5.8

 

Junie

0.0

 

 

 

Let wel:

Die verbruik vir 04/05 is baseer op die verminderde kwota (75%).

 

Soos hierbo aangedui, was die reënval vir Januarie min of meer normaal. Gelukkig was die reënval die vorige maand (Desember) ver bo normaal. Die grafiek dui aan dat die persentasie verbruik selfs minder word as wat die gemiddelde patroon aandui. Dit is een van die redes waarom beperkings opgehef kon word. Volgende maand sal die verhoogde kwota bygevoeg word en dan sal die syfer nog beter lyk, m.a.w. die pienk lyn sal nog verder bo die blou lyn wees.

 

4. Werk-vir-Water.

 

Tans word sowat 7 600 hektaar indringerbome per jaar op al die projekte onder ons beheer skoongemaak. Die opvolgwerk (spuit) behels sowat 27 000 hektaar en rehabilitasie word op sowat 230 hektaar jaarliks gedoen. (Rehabilitasie behels die aanplant van inheemse plante in gevalle waar die skoongemaakte grond maklik kan verspoel).

 

30 000 hektaar word jaarliks met behulp van ‘n helikopter skoongemaak en 87 000 hektaar word opgevolg. Hierdie werk word hoofsaaklik in die Kouga- en Tsitsikammaberge gedoen. Die bome is gelukkig baie eil versprei. Die enorme oppervlakte wat deur die helikopter gedoen word, moet dus in hierdie perspektief gesien word.

 

Die totale hoeveelheid hout wat jaarliks afgekap word, is ongeveer 10 miljoen ton en werk word aan sowat 1 000 mense verskaf.

 

Die soorte hout is meesal Wattle, Denne, Bloekom, Populier, Swarthout, Turksvy, Sering, Rooikrans en Port Jackson. (Ja, Swarthout is ook ‘n verklaarde indringer!).

 

Dit wil voorkom asof die bewusmaking van die gevare van indringerplante darem soms vrugte afwerp. So het ons al gevalle teëgekom van boere wat weier dat hulle bure Indringerbome as windbreek plant en het ons ook al gevalle gehad van boere wat vrywillig bestaande bome verwyder het. Sommige boere kap deesdae die onderste takke van hul windbreekbome af (Blykbaar om darem ‘n mate van ‘n trek te kry om vrugte gouer te laat droog word wanneer dit gedou het). Soms sien ons ESKOM kap die toppe van die bome af. Nou soek ons nog net iemand wat die middelste gedeeltes ook afkap! Indien u enige advies verlang vir die doodmaak van indringerplante kan u vir Edwill Moore (Snr Projekbestuurder) by die kantoor skakel.

 

Besoek gerus die Werk-vir-Water webwerf by www.dwaf.gov.za/wfw/.

 

5. Wenk vir die maand.

 

Voorsien u pomp van ‘n “no-flow” skakelaar. Dit sal verhoed dat die pomp droogloop en uitbrand wanneer daar ‘n onverwagte onderbreking in die watertoevoer is. Hierdie skakelaars is teen relatief lae koste beskikbaar by u verskaffer van besproeiingstoerusting.

 

6. Uit die geskiedenis

 

Die volgende uittreksel uit “Die brullende leeu getem” deur G F Malan:

 

1916 Vloed

 

Hierdie vloed het in Mei 1916 plaasgevind. Dit was ‘n baie groter oorstroming as dié van 1905 en geen ander vloed het so ‘n groot eis aan menselewens gestel as hierdie een nie. “The Re-Echo” van 10 Mei 1916 gee ‘n duidelike beeld van die ramp: “Geen woorde kan die verskriklike verwoesting beskryf wat sedert Woensdag deur die Gamtoosrivier aangerig is nie. Op daardie dag het dit orals begin reën en aangehou tot Sodag. Op sommige plekke is 11 duim gemeet en dit word veronderstel dat êrens in die Kougaberge ‘n wolkbreuk moes plaasgevind het. Vrydagoggend om halfdrie het die Grootrivier skielik bo by Andrieskraal afgekom en ‘n halfuur later het die Kougarivier met ‘n vyftienvoethoë golf bygekom. Teen nege-uur het daar nog 3 tot 4 voet water verbygegolf; daarby het die Grootrivier groot massas rooi Karoowaters deurgevoer, en vanwaar die twee riviere inmekaar vloei, is die hele Gamtoosvallei geheel en al oorstroom. Saterdag was die gesig by die Gamtoosbrug skrikwekkend. Vir myle en myle aanmekaar kon ‘n mens niks anders sien as water en nogmaals water nie!

 

“Die spoorwegbrug oor die Gamtoos (Gamtoosstasie) wat teen die jaar 1912 ongeveer 10 voet hoër gebou is as die oue, was onder water. Dit gee ‘n aanduiding van die omvang van die verskriklike watervloed wat die vallei bedek het. Gamtoosstasie was nou een bruisende rivier en al die geboue is, óf totaal weggespoel óf hulle was geheel en al onder water. Trokke en passassierswaens het wel nog op die spoor gestaan, maar hulle kon net so af en toe gesien word as die golwende water oor hulle spoel.

 

“Dis byna ‘n wonder dat daar nie meer as 24 mense hul dood in die water gevind het nie”.

 

7. Ortofotos

 

Kortliks kan ‘n ortofoto gedefinieer word as ‘n lugfoto wat akkuraat volgens skaal verwerk is sodat daarop afgeskaal kan word en die lengte-en breedtegrade en plaasgrense en selfs kontoere aangebring kan word. Ons beskik tans oor nuwe ortofotos, in kleur en op ‘n baie hoë resolusie. Dit is op rekenaar (in digitale formaat) en die skaal kan aangepas word soos nodig. Plaasgrense en kontoere kan basies met die druk van ‘n knoppie aangebring word. Soos in die verlede is besproeiers welkom om na die kantoor te kom indien hulle iets op kaarte wil sien. Verkieslik moet u vooraf ‘n afspraak maak met Andrew Murray. Ons kan ook kaarte in digitale formaat voorsien sodat dit geneem kan word na ‘n plek wat dit op fotopapier kan uitdruk en lamineer.

 

8. Algemeen

 

Soms gebeur dat dat ons pype bars omdat water baie skielik toegemaak word. Die probleem is dat baie besproeiers flinderkleppe (“Butterfly valves”) in hulle stelsels het. Hierdie kleppe kan baie vinnig toegemaak word. Dit veroorsaak dan waterslag (“water hammer”) wat die druk vir ‘n baie kort periode geweldig verhoog. Ons wil u graag vriendelik versoek om eerder gebruik te maak van die tradisionele wielkraan aangesien dit nie so vinnig toegemaak kan word nie.

 

Onthou, enige voorstelle is welkom.

 

Groete,

 

Pierre Joubert

Hoofbestuurder: GBR 

 

 

 

Copyright(c) 2005 Gamtoos Water. All rights reserved.
gamtoos@lantic.net