Gamtoos-besproeiingsraad  -  Gamtoos Irrigation Board

 

HomeMy WaterAlgemene VraeStatistiekNuusKontakinligting

 

 

NUUSBRIEF 1/2005

 

03 Januarie 2005

 

Inhoud:

 

1.      Inleiding

2.      Waterbeperkings

3.      Damstand, reënval, ens.

4.      Werk-vir-Water nuus.

5.      Wenk vir die maand.

6.      Uit die geskiedenis.

7.      Algemeen

 

1.      Inleiding

 

Hierdie nuusbrief word tans aan sowat 90 persone/instansies uitgestuur. Slegs ongeveer 30% van ons besproeiers ontvang dit.  Die oorblywende sowat 170 besproeiers kry nie die brief nie aangesien hulle óf nie oor e-pos fasaliteit beskik nie óf ons nie hulle e-pos adresse het nie. Ons doen egter ons bes om nog adresse te kry.

 

 

2. Waterbeperkings

 

Die beperking van 25% is steeds van krag. Die reën in Desember het wel 'n styging van sowat 5% in die Kougadam tot gevolg gehad, maar Port Elizabeth se damme het feitlik geen styging getoon nie.

 

 

3. Damstand, reënval ens.

 

Inhoud van Kougadam soos op 31 Desember 2004 :  63.3 %.

 

 

Reënvalsyfers vir Desember (mm)

 

 

Patensie

Kougadam

Loerie

Langtermyn gemiddeld

44.4

43.4

55.0

Werklik gemeet 

166.8

139.4

259.1

                                                                

Gemiddelde historiese watergebruikspatroon teenoor werklike verbruik 04/05

                                                        

 

Kum. % oor  Maand   (Histories)

Kum % oor (Werklik)

Julie

96.2

95.9

Augustus

89.9

89.6

September

82.1

84.9

Oktober

75.9

77.1

November

65.8

63.9

Desember

55.1

 57.3

Januarie

44.1

 

Februarie

31.8

 

Maart

21.4

 

April

13.0

 

Mei

5.8

 

Junie

0.0

 

      

Let wel:                                                        

Die verbruik vir 04/05 is baseer op die verminderde kwota (75%).                

                                                        

 

Soos hierbo aangedui, was die reënval vir Desember ver bo normaal. Ongelukkig het hierdie reën meesal in die vorm van donderstorms geval en is daar baie boere wat skade gekry het soos pyplyne en draadheinings wat weggespoel het. Oesskade het ook taamlik algemeen voorgekom en op ten minste een plaas het hael 'n hele lemoen-oes vernietig. Nogtans het die welkome reën wel tot gevolg gehad dat heelwat minder water onttrek is en lyk die gemiddelde verbruikspatroon steeds goed, maar daar is wel besproeiers wat baie min water oorhet.

 

Leuse vir die maand:

 

Rapporteer enige lekkasies of vermorsing van water, hetsy deur die Raad of u buurman.

 

4. Werk-vir-Water.

 

Een van die interessante projekte waarmee ons besig is, is die uitroei van indringerplante deur middel van 'n helikopter. Die gebiede ter sprake is die Kouga- en Tsitsikammaberge. Die grootste vyand in hierdie geval is die Denneboom. Sade waai oor vanaf plantasies in die Tsitsikamma. Die beleid is om alle indringerplante in 'n opvangebied uit te roei. Indien hierdie bome daar gelaat word, sal hulle aanhou saad produseer wat die gebied verder stroom-af sal besmet.

 

Onthou dat wetgewing sedert 1998 bepaal dat die aanplant van sekere uitheemse plante onwettig is aangesien dit as indringerspesies geklassifiseer is. Permitte word slegs in uitsonderlike gevalle toegeken, byvoorbeeld vir plantasies. Onwettige soorte sluit in Beefwood, Silwer Eik, Denne en Spaanse Riet. Vir windbreuke word Geelhout en Keurbome aanbeveel en alhoewel die Chinese Populier 'n uitheemse boom is, word dit nie as indringerplant beskou nie en mag dit ook aangeplant word.

Daar is baie goeie redes waarom hierdie wetgewing ingestel is. In die geval van die Gamtoos is dit 'n kwessie dat hierdie plante die rivier heeltemal kan "oorneem". Afgesien van 'n belangrike ekosisteem wat tot niet kan gaan, sal rivierwalle ook makliker oorstroom en eilande sal in die rivier vorm, wat weer erosie van rivierwalle sal veroorsaak. Tans het ons 'n permanente span in die rivier om die plante te beheer en u as besproeier betaal die koste. Indien die aanplanting van hierdie plante nie gekeer word nie, sal hierdie koste aanhou styg.

 

5. Wenk vir die maand.

 

Watergebruikers word gereeld gemaan om nie water direk uit die kanaal vir huishoudelike doeleindes aan te wend nie. Feit is dat die gehalte van die water in die kanaal meeste van die tyd nie aan die vereistes vir menslike gebruik voldoen soos voorgeskryf deur die SABS nie. Die probleem is dat ons kanaalstelsel meesal oop is. Dit het tot gevolg dat enigiets maklik in die water beland en dit dan besoedel. Afgesien van normale bakterië is dit veral menslike afskeidings wat die grootste gevaar inhou. Kanaalwater wat vir menslike doeleindes gebruik word, behoort ten minste gechlorineer te word om die kieme te vernietig. Indien u oor opgaartenks of 'n reservoir beskik, kan HTH maklik toegedien word. (Ons kan help om die hoeveelheid te bereken). Indien u egter 'n behoorlike suiweringstelsel wil installeer, kan u gerus vir Chris Cowling van "Water Technology (Pty) Ltd" kontak vir 'n kwotasie. Hy het baie ervaring op hierdie gebied en verskaf ook die nodige komponente. Sy selnommer is 083-391 1556 en sy e-pos adres is chris.cowling@kingsley.co.za.

 

 

6. Uit die geskiedenis

 

Het u geweet dat besproeiing in die Vallei reeds plaasgevind het voordat die Philip tonnel in 1844 voltooi is? Volgens "The early history of Hankey" deur Wendy Dilys Coetzee, is 'n besproeiingskanaal in 1830 deur Mnr James Wait (as kontrakteur) met 'n klompie ywerige Koi-werkers voltooi. (Die Koi-mense was glo goed gemotiveerd aangesien hulle self ook deur die kanaal bevoordeel sou word). Die kanaal het water uit die Kleinrivier afgevoer tot by Hankey. Die oorsprong was 5,7 km stroom-op van Hankey op 'n eiendom wat tans aan Mnr Tertius Meyer behoort. Daar is nog orals tekens van hierdie kanaal.

 

 

Mnr Charles Wait  in 1987 in die kanaal. (Foto met vergunning van Mnr John Wait)

 

7. Algemeen

 

Ons ontvang gereeld oproepe van besproeiers wat rapporteer dat daar geen water by hulle punte is nie. In die meeste gevalle vind ons dat die kraan by die aftappunt toe is. Maak dus asseblief doodseker voor u rapporteer, want elke keer is daar koste verbonde waarvoor al die  besproeiers op die ou end betaal.

 

Onthou, enige voorstelle om hierdie nuusbrief te verbeter, sal hoog op prys gestel word. Insette ten opsigte van die geskiedenis van die Vallei, of interessante staeltjies, sal ook verwelkom word. (Onthou, die Vallei strek tot by Gamtoosmond).

 

'n Voorspoedige 2005 word u toegewens.

 

Groete,

 

 

Pierre Joubert

Hoofbestuurder: GBR

 

 

 

Copyright(c) 2005 Gamtoos Water. All rights reserved.
gamtoos@lantic.net